Wie is Hoërskool Centurion?
Hoërskool Centurion het al vir 64 jaar ‘n onmisbare bydrae in die opvoeding en ontwikkeling van leerders gelewer en sal vir seker in die toekoms net verder op hierdie stewige fondament voortbou.
Boodskap van die hoof:
Hoërskool Centurion is verreweg die oudste skool in die groter Centurion.
Die Lytteltonse Hoërskool het amptelik op 15 Januarie 1958 in die ou Westeinde-skoolgebou geopen, waar ook Hoërskool Langenhoven eers gehuisves is. Die meeste leerders moes daagliks met die trein vanaf die stasies Lyttelton, Irene en Kloofsig na die stad reis.
Teen 1960 kon die 764 leerders net nie meer in die ou ‘Langenhovenskool’ inpas nie en op 2 Augustus 1960 is die nuwe skoolperseel in Selbornelaan in gebruik geneem. Hierdie tradisieryke skool het deur die jare sy naam verander om in ‘n moderne wêreld aan te pas en het vanaf 14 Februarie 1975 as Hoërskool Verwoerdburg bekend gestaan en vanaf 1999 as Hoërskool Centurion.
Die skool het oor die jare ‘n reputasie ontwikkel as ‘n skool met ‘n intieme familiekarakter, wat sy ryk verlede koester, met unieke tradisies en waardes wat spreek van ‘n omgeekultuur waarin die leerders nie net kan groei en ontwikkel nie, maar ook geborge kan voel. Die skool staan bekend as die skool van geleenthede, waar ‘n wye spektrum aktiwiteite tot die leerders se beskikking gestel word, sodat hulle op alle gebiede kan groei en ontwikkel.
Die skool streef daarna om nie net leerders akademies te ontwikkel nie, maar jongmense voor te berei vir ‘n veranderende wêreld.
Ons leerders pronk uiteindelik in die beroepswêreld op ‘n verskeidenheid terreine deur uitstaande bydraes nasionaal, sowel as internasionaal, te lewer.
Die Woeries pak alles met oorgawe aan, is besonder trots op hul verlede, maar is aanpasbaar in ‘n snel veranderende omgewing, sonder dat ons prysgee wat vir ons kosbaar is. Ons streef elke dag daarna om te verbeter – vandaar ons leuse: “Steeds Hoër”.